Rameez Patel (30) word aangekla van die moord op sy vrou, Fatima (29). Regter Frans Kgomo het Patel se aansoek om die aanklag te laat vaar van die hand gewys. Die staat het vroeër versoek dat die saak uitgestel word aangesien die twee getuies glo onontbeerlik in hul saak is.
Die hof het gehoor dat die twee getuies glo uit die getuiebeskermingsprogram ontsnap het. Tumi Mokoena, Patel se regsverteenwoordiger, het die staat skerp gekritiseer en aan die hof gesê dit maak nie sin dat getuies uit die getuiebeskermingsprogram kan ontsnap nie. Hy het aangevoer dat die herhaalde uitstel van die saak Patel se kinders traumatiseer.
Kgomo het die staat gewaarsku dat hy nie ʼn verdere aansoek om uitstel sal toelaat nie. Die staatsaanklaer Mashudu Mudau het aan die hof gesê die twee getuies, albei Zimbabwiese burgers wat vir Patel gewerk het, het ondanks maatreëls van die getuiebeskermingsprogram ontsnap ná klagtes oor hul behandeling.
Mudau het gesê die twee getuies het gekla oor die toelaes wat hulle ontvang het om kos te koop en verblyf te betaal. Daar is nie bekend gemaak hoe die getuies daarin kon slaag om te ontsnap nie.
Patel is in April 2015 in verband met die moord op sy vrou in hegtenis geneem. Hy beweer ʼn inbreker het sy vrou vermoor.
Regter Kgomo het die verhoor tot 1 Augustus uitgestel.
Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.