ʼn Hoërskoolleerder is in hegtenis geneem in die Vrystaat nadat hy glo ʼn meisie 14 keer met ʼn mes op die skoolterrein gesteek het.
Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê die 21-jarige leerder van die Moteka High School het die 18-jarige meisie glo ná ʼn woordewisseling herhaaldelik met die mes gesteek. Die verdagte is op die skoolterrein in hegtenis geneem terwyl die meisie na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir behandeling.
“Niemand weet nog waaroor die rusie was nie, maar hy het glo die mes uitgepluk en die meisie herhaaldelik gesteek ten aanskoue van ander leerders en onderwysers.” Mophiring het gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek. Die verdagte sal Woensdag in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn.
Geen inligting kon oor die meisie se toestand verskaf word nie.