
Die “boom van die hemel” Foto verskaf deur die stad Kaapstad via ANA
Die stad Kaapstad het inwoners Maandag versoek om op die uitkyk te wees vir ʼn indringerboom uit China, wat ook as die “boom van die hemel” bekend staan. Inwoners word gemaan om dit by die munisipaliteit aan te meld indien hulle een van dié bome iewers gewaar.
“Dié indringerplant bedreig woonbuurte in Kaapstad en veroorsaak omvattende ekologiese en infrastruktuur-skade,” het Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir energie, omgewingsake en ruimtelike beplanning, gesê. “Dit lyk dalk eksoties en mooi, maar dié boom is ʼn uiters skadelike indringerspesie.”
Volgens Van der Merwe het die munisipaliteit reeds ongeveer 200 berigte ontvang van plekke waar dié boom, veral in die suidelike voorstede in Newlands, Constantia, Wynberg en Claremont voorkom.
Inwoners het ook al die indringerplant aangemeld in Somerset-Wes, Durbanville, Bellville en Kuilsrivier. Dit is ʼn bewys dat die boom reeds na woonbuurte dwarsoor die stad versprei het.
Volgens Van der Merwe moet inwoners so gou as moontlik aanmeld wanneer hulle die boom gewaar, aangesien die plant se wortelstelsel ʼn bedreiging inhou vir stedelike infrastruktuur. Die boom gee ook ʼn allelopatiese chemiese middel af wat die groei van ander plante verhinder.
“Persone wat in fisiese aanraking kom met die boom, veral die blare, kan ook ʼn veluitslag toon en indien dit nie behandel word nie, kan dit tot ʼn erge gejeuk en pyn en ongemak lei,” het Van der Merwe bygevoeg. “In só geval word mediese behandeling moontlik benodig.”
Hy het gesê dit is boonop ingewikkeld om die boom te verwyder, aangesien die boom weer uit stukkies wortel en ʼn ontblote boomstomp kan groei. “Klein steggies kan per hand verwyder word, maar dit is belangrik dat niks van die wortel in die grond oorbly nie.”
Inwoners wat die boom gewaar, word versoek om dit by die stad se Groen Werke-eenheid aan te meld. Stuur ʼn e-pos aan invasive.species@capetown.gov.za.