Adv. Glynnis Breytenbach, DA LP en voormalige senior staatsaanklaer, sal Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn vir haar beweerde oortreding van die nasionale vervolginggesagwet.
Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolginggesag (NVG), het gesê die aanklagte hou verband met ʼn voorval in 2012 toe Breytenbach na bewering geweier het om haar skootrekenaar in te handig. Sy het ook glo bewyse van die rekenaar gevee terwyl ʼn interne ondersoek na beweerde wangedrag teen haar aan die gang was.
“Die NVG het in 2012 ʼn saak by die Pretoria Sentraal-polisiestasie aanhangig gemaak en die dossier is nou aan ons oorhandig,” het Mfaku gesê.
Hy het gesê aanklaers het besluit daar is ʼn prima facie-saak teen Breytenbach dat sy Artikel 40 (d) van die NVG-wet oortree het. Tronkstraf kan aan oortreders opgelê word.
Mfaku kon nie verduidelik waarom die polisieondersoek meer as drie jaar geneem het om af te handel nie.