Altesaam 114 liggame is uit die puin van ʼn woonstelblok in Tainan, Taiwan se oudste stad, verwyder nadat ʼn aardbewing die stad ʼn week gelede getref het.
Owerhede in Tainan het gesê slegs een persoon word nog vermis. Die liggame is uit die puin van die 17-verdieping Weiguan Golden Dragon-gebou gehaal. Altesaam 327 mense in die gebou het die ramp oorleef.
Die gebou se ontwikkelaar, Lin Ming-hui en twee argitekte is tans in polisie-aanhouding, aangesien die vermoede bestaan dat die boumaatskappy nalatig was met die oprigting van die woonstelblok. Die aardbewing, wat 23 kilometer onder die oppervlak was, was glo nie veronderstel om soveel skade aan te rig nie.
Verskeie ander eiendomme wat ook deur Ming-hui ontwikkel is, word nou deur beamptes van die stad ondersoek.