Die Mpumalanga-polisie het Donderdagmiddag ʼn vermeende dwelmhandelaar vasgetrek nadat hulle tydens ʼn bewusmakingsveldtog by ʼn hoërskool in Evander, naby Secunda, leerders met dagga betrap het.
Brig. Selvy Mohlahla, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê verskeie polisiebeamptes en beamptes van die honde-eenheid het die hoërskool besoek as deel van ʼn veldtog om bewusmaking te skep oor veiligheid by skole.
“Tydens die beamptes se besoek is dagga en sigarette by vyf leerders gekry,” het Mohlahla gesê. “Aangesien hulle minderjarig is, is ʼn waarskuwing uitgereik en hul ouers ingelig.”
Die polisie het die leerders ondervra en verdere ondersoek het hulle na ʼn taxistaanplek in die dorp gelei, waar ʼn 36-jarige Nigeriër in hegtenis geneem is.
Die man sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van dwelmhandel en die besit van dagga.