
Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg tydens hul vorige hofverskyning. Foto: Mariné Jacobs
Kapt. Henk Prinsloo, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., wat almal tans op borgtog vrygelaat is, sal saam op ʼn aanklag van moord verskyn. Daar was reeds vroeg Vrydagoggend ʼn sterk polisieteenwoordigheid voor die hof en talle strate om die hof is afgesper, vermoedelik ingeval groepe betogers weer voor die hof wil betoog.
Van der Westhuizen, Loggenberg, Cilliers sr. en Cilliers jr. het op 12 Januarie laas in die hof verskyn. Die staat beweer dat hulle verantwoordelik was vir die aanranding en moorde van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba was na bewering op 6 Januarie betrokke by ʼn plaasaanval in die gebied. Hulle het na bewering van die toneel gevlug en die boer het alarm gemaak.
Kort daarna het ʼn groep boere die twee vermeende aanvallers op die plaas vasgetrek en die polisie is ontbied. Die staat beweer Prinsloo was een van die eerste polisielede op die toneel en het glo die boere gehelp om Tjixa en Jubeba aan te rand.
Ao. Isaac Tshabalala, die ondersoekbeampte, het voorheen in die hof getuig toe hy op die toneel opdaag, was Tjixa en Jubeba erg aangerand, hul gesigte was geswel en een het “krapmerke oor sy gesig gehad asof hy gesleep was”. Die twee mans is na ʼn hospitaal gebring waar hulle later aan hul beserings beswyk het.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het egter tydens hul vorige hofverskyning gesê die staat het geen bewyse dat dit wel hulle was wat vir die aanranding van die twee mans verantwoordelik was nie, maar dat hulle bloot op die toneel agtergebly het toe die polisie daar opgedaag het. Baie boere het glo weggery toe die polisie by die toneel opgedaag het.
Landdros Leshni Pillay, wat die saak aanhoor, het voorheen gesê sy is teleurgesteld oor die manier waarop die saak deur die polisie hanteer is en hoewel dit hartseer is dat twee mense dood is, was daar geen bewyse voor die hof dat die vier beskuldigdes by die saak betrokke was nie.