Dit het pres. Jacob Zuma 16 bladsye geneem om in sy staatsrede nié genoeg te sê om die skynbaar onafwendbare rommelstatus van die land af te weer nie. Die gevoel van ’n nimmereindigende toespraak is versterk deur die uur lange ontwrigting daarvan deur veral die EFF. So irriterend soos die EFF se ontwrigting was, het dit darem kleur aan ’n andersins vaal toespraak met talle brak kolle verleen waar die mees akute brandpunte soos ’n Danie Gerber in sy fleur gesystap is.
Hy het wel volgens sommige ekonome in sekere opsigte beter as vantevore daarin geslaag om die ekonomie, sy skete en oplossings aan te spreek. Tog lyk dit of hy tot groot mate net verlede jaar se aangekondigde negepuntplan afgestof het.
Maar die grootste probleem bly dat dit Zuma is wat die toespraak afgesteek het, en die president se geloofwaardigheid is oor ’n te wye front onherroeplik daarmee heen om met ’n net-net-toespraak die gety om te keer.
Daar rus nou ’n gedugte taak op min. Pravin Gordhan om met die komende begrotingsrede, wat boonop ’n verkiesingsjaar se rede gaan wees, sake op koers te kry.
Soos voorheen is dit eintlik die volstruispolitiek – sake wat die president heeltemal verswyg het – wat skerp onder die vergrootglas kom. Netwerk 24 lys dit soos volg:
- Staatsamptenare se salarisse;
- Die krisis oor die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies, of selfs net die uitwerking wat sy onoordeelkundige besluite op die ekonomie gehad het;
- #FeesMustFall: Hy het vaag daarna verwys toe hy gesê het die regering het reageer op “die finansiële tekort wat ontstaan het uit die 0%-verhoging”;
- Hoe sleg dit werklik in staatsbeheerde instellings (SOE’s) gaan. Volgens Zuma vaar hulle meestal baie goed; en
Die debakel oor pres. Omar al-Basjir van Soedan.
Zuma is ná die staatsrede deur ’n opposisieleier daarvan beskuldig dat hy ’n belangrike saak soos die droogte verswyg het. Zuma het egter wel ’n stukkie daaraan gewy, maar op so ’n manier dat dit moeilik is om af te lei of die lot van handelsboere enige aandag geniet.
Wat hy wel verswyg het, is plaasaanvalle, en dit boonop so kort op AfriForum en die TLU se skokkende verslag.
Soos verwag, het hy baie aandag aan rassisme geskenk, maar stiksienig eensydig. Daarmee het hy ook die tafel gedek om, selfs vir hom, ongewoon baie verwyte na apartheid te slinger. Lekker blaamverplasing.
AfriForum som die staatsrede soos volg op: “AfriForum beskou die kontroversiële begin van die 2016-Staatsrede as ʼn verleentheid wat die gebrek aan leierskap in die land duidelik toon. Enersyds het opposisiepartye die geleentheid gebruik om hulle verkiesingsveldtogte van 2016 in die kollig te plaas en met ’n algehele gebrek aan respek teenoor die president opgetree. Andersyds het die president hierdie tragiese stand van sake soos gewoonlik as ʼn grap hanteer en historiese gebeure misbruik om net meer verdeeldheid op grond van ras tussen gemeenskappe in die land te saai.”
’n Interessante aspek wat Zuma te berde gebring het, was die kwessie van die koste van twee hoofstede. Die gedagte dat die land net een hoofstad kan hê, is nie nuut by die ANC nie, en hoewel Zuma nou Pretoria (ja, hy het werklik by herhaling na Pretoria en nié Tshwane nie verwys) teen Kaapstad afgespeel het, het planne vantevore onder meer ingesluit dat Midrand die nuwe hoofsetel moet huisves. Oor dié kwessie gaan die vonke nog lekker spat, hê, hê, hêê …(x 2).
Maar hoe belangrik was die “syvertonings” soos dié van die EFF, Cope en groepe soos die betogings van die #ZumaMustFall-veldtog? En kan dit genoegsaam momentum opbou om Zuma kort voor lank te kniehalter? Is die persepsie genoegsaam versterk dat Zuma nie die nodige respek het en verdien om president te wees nie? Die vraag kan veral gevra word teen die agtergrond daarvan dat dié veldtogte nie nou afgesluit is nie.
En “Zupta” se voete is gans te veel van klei om hom teen aanslae te beskerm.
Die vraag bly ook staan: Is Zuma enigsins in staat om by sy ampseed en die Grondwet te hou? Of gaan dié kwessie nog by herhaling in die howe draai omdat die ANC-beheerde parlement te slap in die knieë is om sy plig uit te voer en die president verantwoordbaar te hou?