
Kringtelevisiebeeldmateriaal van ‘n rooftog by die Vodacom-winkel in die Mall@Reds, Centurion op 11 Februarie 2016 Foto: Verskaf deur die SAPD
Die polisie stel ondersoek in nadat die Vodacom-winkel by die Mall@Reds in Centurion Donderdagoggend deur meer as vier gewapende mans beroof is.
“Werknemers van die winkel was vanoggend besig om vir diens aan te meld toe die rowers toegeslaan het,” het kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee van die rowers het omstreeks 08:40 die winkel betree en het ʼn vuurwapen op die personeel gerig.”
Kringtelevisiebeeldmateriaal dui aan dat meer as twee rowers ook buite die winkel gewag het.
“Die werknemers is gedwing om na die personeelkamer te gaan en op die vloer te lê. Een van die werknemers is aangesê om selfone in sakke te plaas,” het Selepe bygevoeg.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van ‘n rooftog by die Vodacom-winkel in die Mall@Reds, Centurion op 11 Februarie 2016 Foto: Verskaf deur die SAPD
Die verdagtes het met drie sakke vol selfone, ter waarde van meer as R1 miljoen, gevlug. “Een van die twee rowers het glo ʼn rooi Vodacom-T-hemp en denim aangehad met ʼn blou pet. Die tweede rower het ʼn LG-T-hemp, swart baadjie, swart langbroek en hoed aangehad. Die polisie ondersoek die kringtelevisiebeeldmateriaal.”
Selepe het gesê die rowers het met ʼn blou Toyota Corolla en ʼn tweede, onbekende motor, gevlug. Die registrasienommers van die motors is nie bekend nie.
“Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die rowers is nog op vrye voet,” het sy gesê.
Enigiemand met meer inligting word versoek om die Wierdabrug-polisie by 012 654 4031 te skakel.