ʼn Vragmotorbestuurder het Donderdagmiddag ternouernood aan die dood ontkom nadat sy vragmotor voor ʼn trein beland het naby die Ferreira-kleinhoewes buite Bloemfontein.
“Die vragmotor was gedeeltelik rondom die voorkant van die lokomotief gevou,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. “Dele van die vragmotor was oor ongeveer 75 meter versprei.”
Die bestuurder van die vragmotor is tydens die impak uit die voertuig geslinger. “Hy het slegs geringe beserings opgedoen,” het Meiring bygevoeg. Hy is op die toneel behandel voordat hy na die Pelonomi-hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
Niemand in die trein het beserings opgedoen nie.
Plaaslike owerhede stel ondersoek in.


