Die betogers, lede van die Ses’khona People’s Rights-beweging, is op die hoek van Barrack- en Pleinstraat deur pantservoertuie, waarvan een met ʼn waterkanon, voorgekeer. Klippe en bottels is na polisielede geslinger en betogers is aangesê om terug te beweeg na hul aanvanklike bymekaarkomplek.
Die Stad Kaapstad het vroeër vandeesweek toestemming gegee vir die betogings voor Zuma se staatsrede, waarvan een Ses’khona se betoging in Keizergrachtstraat was. Betogers het egter vanaf 15:00 begin om in die rigting van die parlement te beweeg.
Oproepe vanuit die publiek en opposisiepartye het in die aanloop tot die staatsrede gekom waarin Zuma gevra word om te bedank. Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê “die mees gepaste aankondiging” wat Zuma tydens sy staatsrede kan maak, is dat hy bedank.
Volgens Maimane gaan Suid-Afrika gebuk onder ʼn leierskapkrisis terwyl Zuma van die een skandaal na die volgende spring, net om homself en sy vertrouelinge te beskerm.
Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van Afrisake, het Donderdag gesê indien Zuma nie drastiese ekonomiese beleidsveranderings aankondig nie, kan historici eendag na die 2016-staatsrede as ʼn tweede Rubicon verwys.
“Politici weet wat die gevolge van rampspoedige en hardnekkige politieke beleid is op ʼn land se ekonomie en politieke bestel. Gegewe die harde lesse van die 1980’s en ʼn dreigende skuldkrisis wat tans op die horison lê, moet politici alles in hul vermoë doen om buitelandse beleggersvertroue terug te wen,” het Jansen van Rensburg gesê.
Zuma sal na verwagting om 19:00 sy staatsrede lewer.


