Die EFF se eerste rede is dat die familie wat pres. Jacob Zuma as vriende erken en sakevennote van sy seun is, glo besluitneming in die land beïnvloed rakende die omstrede kernprogram. “Die Guptas beïnvloed Zuma rakende die kernkragooreenkoms aangesien hulle aansienlik gaan baat by die ooreenkoms deur uranium te verskaf,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, gesê.
“Die kernkragooreenkoms sal Suid-Afrika in ʼn reuse- fiskale krisis dompel.” Ndlozi het voortgegaan deur te sê Zuma het Nhlanhla Nene as minister van finansies gepos aangesien die Guptas hom glo voorgesê het om dit te doen en dat die familie beheer het oor sleutel- staatsbeheerde maatskappye soos Eskom, Transnet, SAL en Denel.
Volgens die EFF het die Guptas ook ʼn invloed met betrekking tot die uitreiking van mynlisensies deur die regering. “Daar is premiers van die Vrystaat en Noordwes, ministers, voorsitters en uitvoerende hoofde van staatsbeheerde maatskappye in hul netwerk van invloed.”
Julius Malema, leier van die EFF, het Zuma verlede week tydens ʼn mediakonferensie daarvan beskuldig dat hy “oor ʼn bord kerrie” vir die Indiese familie beheer gegee het oor sleutelregeringsbelange. Malema het die Guptas aangeraai om Suid-Afrika te “ontruim” en het bygevoeg dat hulle nie meer veilig is in Gauteng nie.