Die liggame van ʼn man en ʼn vrou is in ʼn motor in Polokwane, Limpopo, gevind.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van moord word ondersoek en dat ʼn geregtelike doodsondersoek ook begin is. Volgens Otto het die voorval Woensdag kort ná 15:00 plaasgevind.
Otto het gesê die liggame is reeds van die toneel verwyder. “’n Pistool is op die toneel gevind waarop beslag gelê is. Die 37-jarige man het glo die 24-jarige vrou doodgeskiet voordat hy selfmoord gepleeg het.”
Volgens Otto is die verwantskap tussen die oorledenes nog nie bekend nie. Die oorledenes se identiteite is nog nie bekend nie aangesien al hul naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie.