Die hele kwessie rondom die sogenaamde pers “blackface”-geval by die Universiteit Stellenbosch (US) is gek.
Dit is die mening van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys. Volgens Alberts is dit só gek dat die logiese gevolg van die denke van Open Stellenbosch en die ondersoek van die US-owerhede daarop neerkom dat DStv gedwing sal moet word om die program X-Files van die Fox-kanaal te verwyder weens rassisme.
“Enige gesprek tussen die FBI-agente Fox Mulder en Dana Scully oor “aliens” sal as rassisme beskou kan word. Dit sal nog erger wees indien enige buiteruimtelike wesens gewys word. Sou enige [van hulle] pers wees, sou dit onvergeefbaar wees,” het Alberts gesê.
Hy sê dit is duidelik dat rassistiese oorwegings nie ʼn rol gespeel het in die studente se kostuums en voorkoms nie en dat daar dus nie ʼn prima facie-saak uit te maak is teen die studente nie. “Tog gaan die US-bestuur voort om die saak te ondersoek en die studente te onderwerp aan die sielkundige gevolge van vervolging. Die denkpolisie by die US, soos gerig deur Open Stellenbosch, is besig om hierdeur ʼn gekke, maar gevaarlike kultuur van onderdrukking van die grondwetlike reg tot vryheid van uitdrukking te skep.”
Volgens Alberts moet ʼn universiteit juis ʼn forum vir vrye en kreatiewe denke daarstel. “Dit lyk of die US nou die verpersoonliking word van die staat in George Orwell se 1984. Die ironie van Open Stellenbosch se invloed op die US-bestuur kan ook nie uit die oog verloor word nie. Die US wat veronderstel is om ʼn universiteit in die besonder vir die Afrikaanssprekende minderheid op nasionale vlak te wees, maar daardie mandaat versaak het, laat ter wille van politieke gedienstigheid toe dat ʼn minderheid op kampus die US-bestuur se beleid stuur ten gunste van die meerderheid op nasionale vlak. Daarmee versaak die US sy grondwetlike en internasionaal-regtelike plig teenoor minderhede in Suid-Afrika.”
Alberts het gesê die US moet hom eerder by uitnemende hoër onderrig in Afrikaans bepaal. “Vandag presteer talle voormalige studente wat in Afrikaans onderrig is wêreldwyd sonder enige nadeel weens hul Afrikaanse onderrig en grootword-wêreld. Trouens, dis juis vanweë onderrig in hul moedertaal dat hulle so presteer in Engels-, Spaans-, Frans- en selfs Mandarynssprekende lande. Indien die US-bestuur so ʼn beginselvaste geloof het in transformasie wat die nasionale demografie moet reflekteer, moet hulle die morele leierskap neem en bedank en etnies swart persone in hulle eie poste aanstel. Anders moet hulle eerder stilbly en die US bestuur as ʼn instelling wat moedertaalonderrig in Afrikaans respekteer.”