Paramedici het Dinsdagmiddag verbete geveg om die lewe van ʼn kind, vermoedelik 18 maande oud, te red nadat hy in ʼn bad in ʼn huis in die ooste van Pretoria verdrink het.
Braam Kruger, woordvoerder van Emer-G-Med, het Woensdag aan Maroela Media gesê paramedici is omstreeks 16:40 na die huis in Faerie Glen ontbied.
“Met ons aankoms het die seuntjie geen tekens van lewe getoon nie. Paramedici van Netcare 911 sowel as Emer-G-Med het dadelik begin noodhulp toepas. Hulle het vir ʼn geruime tyd verbete geveg om hom by te bring en het uiteindelik ʼn flou pols gevind,” het Kruger gesê.
Die seuntjie is na ʼn hospitaal gehaas terwyl paramedici steeds gepoog het om hom aan die lewe te hou. “Hy is ongelukkig kort ná sy aankoms by die hospitaal dood. Die spanne het regtig hard gewerk en die uitkoms is moeilik om te aanvaar,” het hy gesê.
Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê paramedici het sowat ʼn uur lank probeer om die kind se lewe red.
Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn kleuter is by die Unitas-hospitaal dood verklaar. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
Volgens ʼn betroubare bron was ʼn vrou, vermoedelik die kind se ma, histeries. Daar word vermoed dat sy die kind gebad het en etlike sekondes alleen gelaat het om sy klere te gaan kry, toe hy vermoedelik gegly en onder die water beland het.