Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Om Zuma se optredes en bekkighede te voorspel

$
0
0
Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Gaan Zuma se grootlikse toegewing Dinsdag voor die grondwetlike hof daartoe lei dat sy staatsrede van die gebruiklike arrogansie en selfgeregtigheid gestroop word? Is daar ʼn kans dat hierdie staatsrede, dalk Zuma se politieke swanesang, ʼn werklike baken van hoop sal word soos dit behoort te wees?

Die media en ontleders het die krane behoorlik oopgedraai om te voorspel wat pres. Jacob Zuma alles in sy staatsrede Donderdagaand gaan sê én verswyg. Nadat hy Dinsdag voor die grondwetlike hof heelwat toegegee oor die Openbare Beskermer se magte, is die vraag of Zuma sommer weer sy gebruiklike adviseurs sal vertrou; of amper belangriker, sy eie oordeel. Kortom, gaan dit lei tot ʼn staatsrede wat meer aan internasionale riglyne voldoen as wat tot dusver die geval was?

Daar word ook wyd besin oor die komende begrotingsrede. Met beide is die verwagtinge nie besonder optimisties nie – wat Zuma betref, gegrond op die ervaring dat hy net té gereeld die verkeerde ding sê, gewoonlik wanneer hy van sy geskrewe toespraak afwyk en in die geval van minister Pravin Gordhan omdat sy speelruimte, onder meer om medisyne toe te dien, bitterlik klein is. En baie van dié medisyne is juis nodig weens Zuma se uitsprake en optrede in die verlede en die kettingreaksies wat dit aan die gang gesit het.

Wat die begroting betref, is die vooruitsigte van wat gesê gaan word meer konkreet. Volgens die jongste aanduidings het die Ontvanger vanjaar minstens R20 miljard minder ingesamel as waarvoor die begroting voorsiening gemaak het. En in ʼn verkiesingsjaar is dit bykans ondenkbaar dat die ANC-regering op sekere uitgawes, veral maatskaplike uitgawes, sal wil besnoei. Daar is immers reeds ʼn vaste verwagting van kospakkies wat onder meer komberse insluit.

Is dit bloot ʼn speletjie van onder meer die media om alles te probeer voorspel? Die Nederlandse geskiedkundige, Han van Bree, het op die oog af met die verkeerde voet uit die bed geklim toe hy hom skerp teen “antisipasiejoernalistiek” uitgespreek het. Hy meen dit neem te vinnig toe in die joernalistiek en omdat dit te dikwels in die praktyk anders verloop, verskraal dit die gehalte van joernalistiek. Hy vaar onder meer skerp uit teen die gebruik van meningspeilings om vooruitskouings te doen.

De Bree is reg én verkeerd. Die fokus behoort te val op deeglike ontledings van die feite van gebeure in die verlede. Die wêreld het egter in ʼn neutedop ontaard en die vakwetenskap toekomskunde speel ʼn groot rol daarin om ekonomies en andersins paraat te wees.

Die vooruitskattings van wat Zuma in sy staatsrede gaan sê, wissel geweldig. Aan die een kant word gemeen hy gaan hoofsaaklik fokus op grondhervorming en sosiale kohesie. Ander waarnemers verwag ʼn groter verskeidenheid kwessies wat aan die bod gaan kom, waaronder ʼn paar wat sterk versluier gaan deurslaan. Onder die “versluierde” temas tel die regering se ekonomiese beleid wat kort voor die verkiesing skerp van links-sosialistiese kringe onder druk kom, maar weer deur wêreldverwagtinge ʼn swaai na die ander kant vereis.

Bitter min ontleders verwag dat Zuma leierskap aan die dag gaan lê en duidelik standpunt gaan inneem wat die toediening van broodnodige medisyne insluit. Met sy staatsrede is hy veronderstel om die pad makliker te maak vir die aanbied van die nasionale begroting.

Sit dit werklik in Zuma se broek?

Een van die fiksies waarmee gewerk word, is dat veral presidente en ministers hul eie toesprake skryf. Gewoonlik word ʼn amptenaar getaak om as toespraakskrywer op te tree, maar met belangrike toesprake soos die staatsrede en begrotingsrede, is dit gebruiklik om ʼn span kundiges in te span. Dit is gewoonlik ʼn enorme taak.

Die staatsrede is uiteraard meer polities van aard as die begroting en die hand van politici van die regerende party is dikwels besonder duidelik.

Kortom, Zuma skryf nie self sy staatsrede nie. Daarom was dit eerder ʼn verleentheid as enigiets anders toe die SAUK enkele jare gelede beeldmateriaal gewys het waar Zuma agter sy lessenaar sit en kamma die finale afronding aan sy toespraak doen. Uiteraard word van Zuma verwag om belangrike insette te lewer en uiteindelik seker te maak hy gaan akkoord met die inhoud, maar ʼn regeringshoof wat self die staatsrede skryf? – nie sommer nie.

Sedert die gebruik van staatredes oorspronklik in die VSA posgevat het, het ʼn lang lys protokol-reëls ontwikkel waaraan ʼn staatsrede moet voldoen. ʼn Belangrike komponent is om ʼn patriotisme rondom nasionale kohesie aan te wakker.

En hiermee, danksy die ANC se verkiesingstrategie om die raskwessie flou te slaan en sommiges, soos om die DA / blankes daaroor in die beskuldigdebank te probeer plaas, skiet daardie protokol by voorbaat in die voet, selfs al maak Zuma ʼn belangrike aankondiging oor ʼn beoogde beraad om die kwessie van toenemende rassespanning te hanteer. Die vorige poging wat Zuma aangekondig het, die sogenaamde Kliptown-beraad, het juis misluk omdat die ANC die blaam elders heen probeer verplaas het en polarisasie verder versterk het.

Soos sake nou verloop, kan die staatsrede ook prakties Zuma se politieke swanesang wees. Hy moet ook besef dat die kanse geringer word dat hy nog oor ʼn jaar in die stoel sal wees en hierdie staatsrede bied aan hom die geleentheid om ʼn onvergeetlike staatsrede te lewer. Hy kan versoening in die land weer op ʼn koers plaas wat minstens ʼn kans op sukses staan. Sy blaamverplasingsmetode het tot dusver die heksebrousel net dikker aangemaak.

Hy kan belangrike aankondigings oor droogtehulp maak, maar die wind waai wes en verwagtinge hieroor kan byna vir seker op teleurstellings uitloop.

Die bal is in Zuma se hande. Hy kan dapper wees en ʼn algemene positiewe gees probeer skep, of hy kan met die oog op die verkiesing sy teikenmark in die oog hou en sy staatsrede met die kenmerke van ʼn meerderheidstirannie beklad.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!