Konst. Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 53-jarige man is omstreeks 05:30 deur drie aanvallers in ʼn straat in Pellissier oorval terwyl hy gedraf het. Die mans het hom na sy huis gedwing waar sy vrou (51) in die hoofslaapkamer was.
“Een van die verdagtes het die man met ʼn vuurwapen aangehou, terwyl die tweede die huis deursoek het vir waardevolle items. Die derde verdagte is na die hoofslaapkamer waar hy die vrou verkrag het,” het Nkabi gesê.
Die drie aanvallers het daarna op die vlug geslaan met ʼn onbekende bedrag kontant en selfone. Die man was ongedeerd. Die egpaar se name kan nie bekendgemaak word nie, om die identiteit van die vrou te beskerm.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volgens Nkabi is dit die derde voorval van verkragting die afgelope week in die stad. Sy kon nie bevestig of die voorvalle met mekaar verband hou nie.