Outa, voorheen bekend as die Bondgenootskap teen Stedelike Tol, het onlangs sy naam verander en die akroniem staan nou vir Organisation Undoing Tax Abuse. Die organisasie het Woensdag gesê hulle het verskeie klagtes van die publiek ontvang oor die SMS-boodskappe wat nou die rondte doen.
Die boodskappe lees as volg: “Ons het jou weiering om jou uitstaande e-tolbalans te betaal, opgemerk. Jou voertuig is ingedien vir notering en regsstappe sal ʼn aanvang neem met kostes daaraan verbonde. Skakel 087 353 1490…”
Volgens OUTA herlei hierdie nommer dan die ontvanger na ʼn sentrum in Kaapstad wat Sanral-oortredings hanteer.
“OUTA het ondersoek ingestel en vasgestel die nommer op Sanral se ‘less60’-webtuiste, asook die nommer wat op die dreigende SMSe verskyn, herlei mens na ʼn private skuldinvorderingsagentskap, ITC Business Administrators, waar die werknemers blykbaar aangesê is om ʼn wanvoorstelling oor die aard van hul indiensneming te gee,” het OUTA in ʼn verklaring gesê.
“Ons verstaan hierdie boodskappe en die optrede namens ITC Business Administrators is onwettig.”
OUTA het gesê motoriste moet hulself nie oor die SMSe bekommer nie, aangesien daar geen wetlike gronde is waarop die betaling van die skuld afgedwing kan word nie. “Dit is waarom OUTA sy e-tol beskermingsaksie van stapel gestuur het, om bydraende lede te beskerm teen regsaksie wat spruit uit e-tolrekeninge wat nie betaal is nie.”
Volgens OUTA sal die organisasie stappe neem teen die “teistering en intimidasie deur Sanral se invorderingsagente”.
Sanral kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.