ʼn Tiener is Dinsdagaand buite Carletonville, wes van Johannesburg, dood nadat hy deur ʼn bakkie van sy fiets afgestamp is.
Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 19:00 op Blybankweg naby die R559 plaasgevind.
“Paramedici het sy fiets in die middel van die pad aangetref,” het Bodasing gesê. “Die seun, vermoedelik 14 jaar oud, se liggaam is in die veld langs die pad aangetref, sowat 15 meter van sy fiets af. Hy het nie skoolklere aangehad nie.”
Die seun is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die bakkie is ongedeerd.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.