Schalk Viljoen, die gr. 11-leerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria wat in Januarie voor die skool deur ʼn bus raakgery is, sal heel waarskynlik vandag [Dinsdag] sy laaste dag in die waakeenheid van die Mediclinic Muelmed deurbring.
“Schalk herstel nou baie goed, hy kan praat en het al kort entjies saam met die fisioterapeut gestap. As sy dokters tevrede is, sal hy moontlik Woensdag na ’n gewone saal oorgeplaas word,” het Marianne van der Laarse, die familie se woordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media gesê.
Schalk ontvang sedert 22 Januarie behandeling in die hospitaal se waakeenheid nadat hy in die buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool raakgery is toe hy die straat wou oorsteek. Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger. Hy het ʼn erge kopwond opgedoen en is dieselfde dag geopereer om drukking op sy brein te verlig. Hy is daarna in ʼn geïnduseerde koma geplaas en verlede week stelselmatig wakker gemaak nadat sy dokters tevrede was met sy goeie vordering.
Hy het Donderdag begin om self klein hoeveelhede vrugtesap te drink en kon teen Saterdag sagte vloeibare kos eet. “Hy het selfs Donderdag gebid vir ʼn pasiënt oorkant hom wat noodbehandeling moes ontvang,” het Schalk se pa, Deon, gesê.
“Schalk het Sondagoggend sy ontbyt langs sy bed op die stoel gesit en eet. Hy lees al die WhatsApp-boodskappe wat na sy foon gestuur word. Ek het later in die kerk Schalk se getuienis gelewer en ek hoop ek het my besonderse ondervinding van ondersteuning deur medegelowiges oorgedra en hoe baie ons dit waardeer asook die diepe besef dat die Here mense gebruik vir sy Koninkrykswerk.”
Van der Laarse het gesê Schalk se ouers is baie beïndruk met die goeie diens van die Mediclinic Muelmed en het hulle dankbaarheid teenoor die personeel uitgespreek.
Lees alle vorige berigte oor Schalk Viljoen op Maroela Media.