Konst. Rishen Rampashard van die Pretoria-Wes-polisiestasie verskyn weer Maandag in die Pretoria-landdroshof vir die moord op lt.kol. Reinier Lagois.
Lagois (42) is verlede maand koelbloedig by sy huis in Pretoria doodgeskiet, glo weens ʼn beweerde liefdesdriehoek.
Maroela Media het vroeër berig Rampashard is op 29 Januarie in verband met die moord in hegtenis geneem.
Lagois se liggaam is op 18 Januarie by sy huis in die Pretoriase Moot gevind. Altesaam 14 patroondoppies het op die toneel gelê en sy blougrys Toyota Corolla was vermis. Die motor is op 20 Januarie ongeveer 7 km van sy huis verlate langs die pad aangetref. Lagois was die hoof van ondersteuning by die Leote-polisiestasie.
Hennie Lagois het ná Rampashard se inhegtenisneming aan Maroela Media gesê sy broer het saam met sy voormalige vriendin gebly, hoewel hulle nie meer in ʼn verhouding was nie. “Hy en [sy vriendin] het saam die huis gekoop waarin hulle gebly het. Nadat hul verhouding op die rotse beland het, het hulle ooreengekom dat sy in die huis sou aanbly en dat hy sou uittrek sodra sy dan sy gedeelte van die eiendom gekoop het,” het hy gesê.
Volgens Hennie was Rampashard die aand van die moord op die toneel, glo as ʼn familievriend. Hy het hom egter nie geken nie. Hy vermoed Reinier se voormalige vriendin ken egter wel vir Rampashard, aangesien sy glo voorheen ʼn bevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisiestasie was, waar Rampashard gevestig is.
Volgens Hennie is Reinier se voormalige vriendin waarskynlik nog nie deur die Valke se ondersoekspan ondervra nie omdat sy tans in ʼn psigiatriese hospitaal behandel word. Hy kon nie sê waarvoor sy behandel word nie.
Lees alle vorige berigte oor lt.kol. Reinier Lagois op Maroela Media.