
Argieffoto
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het die publiek gewaarsku oor ʼn slenter waar jongmense bedrieg word met valse aanbiedinge oor inname in die gewapende magte.
“Die SANW is bewus van bewerings dat groepe, of individue, wat hulself Amabutho en die SA Cape Coloured Corps noem, geld van jong en werklose mense bekom deur beloftes van werk in die weermag,” het brig.genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die SANW, gesê.
“Die groep eis glo ʼn sekere fooi vir administrasie, T-hemde en pette van die slagoffers,” het hy verduidelik. “Die SANW veroordeel ten sterkste enige aktiwiteit wat die publiek doelbewus mislei wat inname in die SANW betref.”
Hy moedig die publiek aan om soortgelyke aktiwiteit of enigiemand wat geld op soortgelyke maniere probeer bekom, by die polisie of naaste weermagbasis aan te meld.
“Die SANW benadruk dit dat daar tans geen integrasie in die SANW gedoen word nie, ná die parlement die Wet op die Terminasie van Inname van 2001 en die Wysigingswet op Demobilisasie van 2001 ingestel het en formeel en wettig die integrasieproses op 31 Desember 2002 tot ʼn einde gebring het,” het Mabanga bygevoeg. “Dit is onwettig vir enigiemand om misbruik te maak van jong Suid-Afrikaners en hulle te mislei deur integrasie in die SANW te belowe.”