Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Regering wil nóg ʼn afgradering verhoed – Ramaphosa

$
0
0
Adjunkpres. Cyril Ramaphosa op 6 Februarie 2016 by 'n galadinee van die ANC in Polokwane Foto: ANA

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa op 6 Februarie 2016 by ‘n galadinee van die ANC in Polokwane Foto: ANA

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het Saterdagaand gesê die regering doen alles in sy vermoë om nog ʼn afgradering deur graderingsagentskappe te verhoed.

“Suid-Afrika se sukkelende ekonomie kan nog beleggers lok, veral in die marinebedryf, deur sy beleggingsdeure vir beleggers oop te maak, en nóg ʼn afgradering deur graderingsagentskappe verhoed,” het Ramaphosa aan gaste by die ANC se galadinee in Polokwane gesê.

Suid-Afrika is een van die lande wat verder afgradeer kan word ná Brasilië onlangs tot “rommelstatus” verklaar is.

Ramaphosa het gesê die regering wend ʼn groter poging aan om die ekonomie ʼn hupstoot te gee. Die Operasie Phakisa en swart nywerheidsprogramme is glo deel van die arsenaal om ekonomiese agteruitgang te bestry en beleggers te lok. Dié ekonomiese ontwikkelingsprogramme is verlede jaar van stapel gestuur om geleenthede te bevorder wat werkskepping sal bespoedig en die ekonomie sou verbeter.

“Ons brei beleggingsektore soos die motorbedryf, tekstiel en vervaardiging uit en ons gebruik ook Operasie Phakisa,” het Ramaphosa gesê. Operasie Phakisa fokus op moontlikhede in die marinebedryf.

Ramaphosa het die sakegemeenskap verseker dat die regering alles in sy vermoë doen om seker te maak dat die land se kredietgradering nie verder verlaag nie, maar dat die ekonomie uitgebou word.

Dit is ondanks die Wêreldbank se vooruitsig dat Suid-Afrika se ekonomie nie hierdie jaar sal groei nie.

“Brasilië is tot rommelstatus verklaar, ons gaan alles in ons vermoë doen om seker te maak dat ons nie rommelstatus behaal nie,” het Ramaphosa bygevoeg.

Brasilië is deel van die Brics (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika)-groepering.

Ramaphosa het gesê die Wêreldbank se hersiene ekonomiese groeivooruitsig vir Suid-Afrika moet nie enige ideale om die ekonomie te groei, verhinder nie. “Die Wêreldbank het sy vooruitsig vir ons groei vanjaar afwaarts aangepas, maar ons is vasbeslote om te bewys dat ons baie hard saam met die sakebedryf en arbeidsformasies werk om seker te maak dat ons ons ekonomie handhaaf.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images