
Argieffoto (Foto: AlexVan, Pixabay)
ʼn 26-jarige man is Sondagoggend in hegtenis geneem ná ʼn skietery by ʼn motorfietswedren in Hawston, Hermanus waartydens twee persone gesterf het.
Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het glo met twee persone gestry toe hy hulle geskiet het. ʼn 22-jarige en 25-jarige is doodgeskiet. “ʼn Polisiebeampte van Hermanus, wat nie aan diens was nie, is ook raakgeskiet en hy is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal saam met nog ʼn slagoffer, wat in die maag geskiet is.”
Die verdagte is omstreeks 06:30 in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord en poging tot moord.
Geen verdere inligting is bekend gemaak nie.