
Argieffoto Foto: led.co.za
Die departement van arbeid het Woensdag ʼn styging in die minimumloon vir werkers in die landbou- en bosboubedryf aangekondig.
“Ná breedvoerige samesprekings en voorleggings deur werkgewers en werknemers in die landbou- en bosboubedryf, het die departement besluit om die minimumloon vir werkers te verhoog,” het die departement Woensdag gesê.
Die departement het gesê hy het onder andere die verbruikersprysindeks (VPI) in ag geneem om die berekening te doen.
Die departement van arbeid het gesê vanaf 1 Maart 2016 word die minimumloon soos volg aangepas:
Uurlikse tarief van R14-25 (R13-37 in 2015/16)
Weeklikse tarief van R651-32 (R601-61 in 2015/16)
Maandelikse tarief van R2 778-83 (R2 606-78 in 2015/16)
Die daaglikse loon vir ʼn plaaswerker wat nege ure per dag werk, is nou R128-26, in vergelyking met R120-32 in 2015/16.
Die departement het gesê hy is bewus van die uitdagings in die landboubedryf wat betref sekere gedeeltes wat deur droogte geteister word en hoe boere reeds teen moeilike besluite te staan kom of hulle hul werkers moet behou of nie.
“Loonwysigings is egter moreel die regte ding om te doen om seker te maak dat werknemers se verdienste in lyn bly met verhoogde lewenskoste, en aankoopmag die ekonomie bevoordeel,” het minister Mildred Oliphant in die verklaring gesê.