
Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)
Die vakbond Solidariteit het Woensdag gesê die Werkloosheidsversekeringfonds (WVF) mag nie sy oorspronklike mandaat wysig om bydraers finansieel by te staan nadat hulle hul werk verloor het nie.
Dit volg nadat die portefeuljekomitee van arbeid vandag publieke insette rakende die Wysigingswet op Werkloosheidversekering aangehoor het.
Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), maak die voorgestelde wysigings voorsiening daarvoor dat die surplus fondse wat die WVF tot sy beskikking het, beskikbaar gemaak word om ander skemas vir “weerlose werkers” te befonds. “Die opgehoopte reserwes van die WVF is nie geld waarmee die Fonds kan maak wat hy wil nie – die geld is spesifiek vir werkloosheidsversekering deur werknemers inbetaal. Dit kan nie nou skielik, net omdat daar ʼn groeiende surplus is, vir ander doeleindes aangewend word nie. Die vae bewoording van die voorgestelde wysigings sal boonop die deur open vir grootskaalse korrupsie en vermorsing van die geld,” het Joubert verduidelik.
“Die SNI het in 2015 aangedui dat die WVF oor ʼn beleggingsportefeulje van R94 miljard beskik. Die WVF samel jaarliks boonop deurlopend meer as dubbeld soveel geld in as wat nodig is om eise uit te betaal, wat meebring dat die fonds se reserwes net aanhou groei, ten koste van die arbeidsmark,” het Joubert gesê.
Solidariteit het ook in 2015 die voorstel van die departement van finansies om bydraes tot die WVF van ʼn maksimum van R297,44 per maand tot ʼn maksimum van R20 per maand te verlaag, verwelkom. “Dié maatreël sou die WVF se oormatige reserwes aan werkers terugbesorg het. Solidariteit vra reeds sedert 2012 vir so ʼn verlaging aangesien die WVF aanhoudend baie meer geld insamel as wat nodig is om sy mandaat uit te voer. Solidariteit sou ook graag wil sien dat Pravin Gordhan dié kwessie in sy begrotingstoespraak aanspreek,” het Joubert bygevoeg.
“Benewens die feit dat die verlaging van bydraes meer geld in werknemers se sak sal beteken, sal ’n verlaging in die bydraes boonop ’n positiewe effek op indiensneming tot gevolg hê. Werkgewers sal die geld wat gespaar word, kan aanwend om meer werknemers in diens te neem, of om afleggings af te weer,” het Joubert verduidelik.
Solidariteit het in 2013, toe die wysigingswetsontwerp wat tans bespreek word, vir die eerste keer voorgestel is, skriftelike kommentaar daarop ingedien.