Vic Rijnen, hoof van die laerskool, het aan Maroela Media gesê die voorval het gebeur nadat die skool reeds begin het en die leerders in hul klasse was.
“ʼn Veiligheidsmaatskappy kom haal elke dag kontant by die skool en die reëling is dat die transito-voertuig voor die saal stop en een veiligheidswag by die kantoor ingaan om die geldtrommel uit die kluis te gaan haal,” het Rijnen verduidelik. “Vanoggend het die transito-voertuig oudergewoonte by die hek gestop en toe die veiligheidswag hulle inlaat, het ʼn wit bakkie agter die voertuig die skoolgronde binnegery.”
Volgens Rijnen was daar ses insittendes in die bakkie waarvan drie polisieuniforms met koeëlvaste baadjies aangehad het. Die drie ‘polisiebeamptes’ het uitgeklim en in die rigting van die kantoor gestap. “Die veiligheidswag het hulle voorgekeer en gevra of hy kan help en die polisiebeamptes het gesê hulle is op soek na die eienaar van ʼn voertuig wat by ʼn misdaad betrokke was,” het Rijnen gesê.
“Hulle het na ʼn motor in die parkeerterrein gestap, op die lisensieskyfie gekyk en gesê dit is die motor waarna hulle soek.”
Toe die beampte van die veiligheidsmaatskappy met die geldtrommel uitgestap kom, het een van die rowers ʼn vuurwapen uitgepluk en ʼn skoot afgevuur. Die rowers het die geldtrommel en die veiligheidswagte se selfone gesteel, voordat hulle op die vlug geslaan het, het Rijnen vertel.
“Die skool se veiligheidswag het gelukkig reg opgetree en by die kantoor ingehardloop om te sê ons word beroof. Ons kon vinnig die paniekknoppie druk en alles sluit, maar die rowers het binne oomblikke op die vlug geslaan,” het hy gesê.
Volgens Rijnen het geen kinders die rooftog aanskou nie en moes slegs een van die skoonmaakpersoneel vir skok behandel word. Die kinders se ouers is ook oor die voorval ingelig en gerusgestel dat niemand beseer is nie.
“Ons sal uit die aard van die saak ons veiligheid nog meer opskerp en beslis die roetine met die kontant verander, maar as polisiebeamptes by die skool instap en sê hulle ondersoek ʼn misdaad, kan mens nie regtig weet of daar iets vreemd aan die gang is nie,” het Rijnen gesê. “Ons is net dankbaar dat niemand seergekry het nie en dat die kinders tot ʼn groot mate onbewus is van die voorval.”
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van gewapende roof word ondersoek,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig dat ʼn veiligheidswag Woensdag in die vroeë oggendure tydens ʼn transitorooftog op die pad tussen Tzaneen en Giyani geskiet is.