Sowat R5,4 miljoen is Dinsdagmiddag tydens ʼn transitorooftog tussen Stella en Mahikeng in Noordwes gebuit.
Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê twee veiligheidswagte was op die N18 in die Setlagole-omgewing toe hulle noodgedwonge moes stop toe die geldwa ʼn pap band gehad het.
“Die veiligheidswagte is deur ses gewapende mans oorval toe hulle die band wou ruil. Die verdagtes het die wagte van hul vuurwapens en selfone beroof voordat hulle die wagte sowat 500m ver die veld in gesleep het.”
Die verdagtes het die wagte vasgebind en brandstof oor hulle uitgegooi. Hulle is glo met die dood gedreig as hulle nie hul samewerking gee nie. Die verdagtes het die geldwa aan die brand gesteek voor hulle met die geld van die toneel gevlug het.
Die Mmabathogeorganiseerde misdaadeenheid ondersoek die saak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


