Die uThukela-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal het vanjaar beurse beskikbaar gestel vir 16 jong vroue wat eers toetse moet ondergaan om hul maagdelikheid te bewys voordat die beurse aan hulle toegeken kan word.
Dlamini het gesê sy het aanvanklik nie oor die program kommentaar gelewer nie omdat sy eers die saak met verskeie rolspelers wou bespreek. “Die openbare debat het die afgelope week gefokus op die teenstrydigheid tussen die grondwetlike reg tot kulturele gebruike en die reg om vroue en meisies teen diskriminasie en geweld te beskerm. Die bespreking is ʼn bewys van hoe ingewikkeld die Suid-Afrikaanse samelewing is,” het sy gesê.
Sy het verduidelik kulturele gebruik, nie net in Afrika nie, maar wêreldwyd, moet bestaansreg hê en gerespekteer word. Dit kan egter nie so gedoen word dat dit inbreuk maak op basiese menseregte nie, het sy gesê.
“Maagdelikheidstoetse is nie ʼn Afrika-kwessie nie; dit is ʼn komponent van skadelike praktyke wat daarop gemik is om die liggaamlike integriteit van vroue te onderdruk,” het sy gesê. “In die meeste gevalle is maagdelikheidstoetse oneffektief, onhigiënies en ʼn ernstige oortreding van ʼn meisie se menseregte. Dit is ook nie ʼn betroubare metode om maagdelikheid te toets nie, aangesien vroue se maagdevliese op verskeie maniere geskeur kan word, byvoorbeeld deur fiets te ry.”
Dlamini het ook verduidelik die stigma wat aan meisies kleef wat ʼn maagdelikheidstoets “dop” so groot is dat meisies soms gevaarlike metodes gebruik om die toets te slaag, deur voorwerpe soos vleis of nette te gebruik om die illusie van ʼn maagdevlies te skep. “Dit is ondenkbaar dat talle vroue en meisies hulself tot sulke gevaarlike ‘maagdelikheidsredding’-praktyke sal wend om [toegang tot tersiêre opleiding te kry],” het sy gesê.
“Meisies onder 18 mag nie maagdelikheidstoetse ondergaan nie, want dit is onwettig. Vroue ouer as 18 moet, volgens die huidige wet, toestemming daarvoor gee. Dit sluit egter nie dwang tot toestemming in deur hulpbronne vir verdere studie beskikbaar te stel nie. Dít is diskriminasie en nie toestemming nie.”
Die DA het intussen die Menseregtekommissie (MRK) se aankondiging dat die beursprogram ondersoek sal word, verwelkom. Die party het ʼn beroep op die ANC gedoen om die burgemeester, Dudu Mazibuko, te skors.
Die EFF het ook die beursprogram veroordeel en dit as “anti-vrou, patriargaal en ʼn skending van vroueregte” beskryf.