“As ʼn goeie korporatiewe burger wat die oppergesag van die reg respekteer, sal M-Net mnr. Cliff heraanstel as Idols-beoordelaar soos beveel deur die Suid-Gautengse hooggeregshof,” het Nondumiso Mabece, woordvoerder van M-Net, gesê. “Ons glo ons het die regte ding gedoen deur mnr. Cliff van die program te verwyder. Ons bly daartoe verbind om ons platforms te gebruik om by te dra tot ʼn verenigde Suid-Afrika.”
Regter Caroline Nicholls het Vrydag beslis ʼn kontrak bestaan tussen M-Net en Cliff en dat die betaalkanaal hom op ʼn tydelike basis weer moet aanstel. M-Net het in die hof aangevoer hulle het nie ʼn kontrak met Cliff nie, aangesien niks nog gefinaliseer is nie.
Wim Trengrove, SC, M-Net se regsverteenwoordiger, het aangevoer hoewel M-Net nie glo dat Cliff ʼn rassis is nie, het sy twiet ʼn massiewe reaksie ontlok en die indruk geskep dat hy ʼn rassis is. Volgens Trengrove het Cliff “die gesig van rassisme” geword.
Dali Mpofu, regsverteenwoordiger vir Cliff, het aangevoer ʼn kontrak het wel tussen M-Net en sy kliënt bestaan en M-Net het teen Cliff gediskrimineer omdat hy wit is.
Cliff sal na verwagting Saterdag ʼn mediakonferensie hou.
Lees alle vorige berigte oor Gareth Cliff op Maroela Media.