Petrol sal van 3 Februarie duurder wees, terwyl diesel beduidend goedkoper sal wees.
Die departement van energie het aangekondig die petrolprys sal Dinsdag om middernag met 6c per liter styg, terwyl die prys van diesel met 62c per liter sal daal. Paraffien word 59c per liter goedkoper en die prys van gas sal 1c per kilogram styg.
Volgens die departement het die gemiddelde internasionale produkpryse van petrol, diesel en paraffien afgeneem tydens die tydperk onder oorsig – 31 Desember 2015 tot 28 Januarie 2016. Die rand het egter verswak teen die Amerikaanse dollar in vergelyking met die vorige tydperk. Die gemiddelde rand/dollar-wisselkoers vir die tydperk was 16,3276 vergeleke met 14,8819 tydens die vorige tydperk.
“Die verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar het die bydrae tot die basiese brandstofprys op petrol, diesel en paraffien laat toeneem met onderskeidelik 49,43c, 37,85c en 38,88c per liter,” het die departement gesê.