
Universiteit Stellenbosch Foto: Cair.za.net
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het bedenkings oor die implikasies van die voorgestelde Wysigingswet op Hoër Onderwys wat onder meer inhou dat universiteite se vryheid om hulle eie taalbeleid te bepaal, ingeperk kan word.
“Dit maak inbreuk op die outonomie van tersiêre instellings in Suid-Afrika,” het dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van die Akademie, in ʼn verklaring gesê. “Die departement se deskundigheid en bevoegdheid om te bepaal wat die spesifieke taalomstandighede van ‘n instelling is, word deur die Akademie in twyfel getrek en die gevaar bestaan dat magspolitieke oorwegings by die bepaling van taal-beleide ‘n rol sal speel.”
Prinsloo het gesê die afgelope week se konvokasievergadering van die Universiteit van Stellenbosch (US) het opnuut bewys dat instellings op hul eie tot redelike insigte kan kom en nie die wetgewing nodig het nie. “Bedaring van gemoedere is noodsaaklik. Die rektor, prof. Wim de Villiers, se opmerking by die byeenkoms dat daar steeds ‘n behoefte en vraag na Afrikaans by US is en dat ‘ons aanbod daarin voortduur’, is eweneens ‘n stem van redelikheid. Hy het bygevoeg, ‘deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense’.”
Volgens Prinsloo is die uittredende voorsitter van die konvokasie, prof. Christo Viljoen, se beroep op die skepping van ‘n paneel van deskundiges en ‘n “Kodesa-tipe beraad” oor die taalkwessie by US, eweneens ‘n gebaar van redelikheid en maak die afdwinging van ‘n taalbeleid deur voorgestelde wetgewing ‘n onnodigheid. “Prof. Viljoen konstateer trouens dat ‘alle redelike partye, van die Minister tot die universiteitsraad, tot die universiteitsbestuur die beginsel van Afrikaans en Engels as onderrig- en kommunikasietale met gelyke status ondersteun…’. Hy bepleit origens die deelname van ‘redelike belanghebbendes’ met uitsluiting van ‘ekstremistiese stemme aan beide kante’.”
Die SA Akademie pleit vir onafhanklike instellings van gehalte waar hoëgehaltenavorsing onderneem word in belang van Suid-Afrika. “Die huidige onrusklimaat by universiteite dra daartoe by dat die land se nasionale aansien in die wêreld ernstig geskaad word. Outoritêre inmenging van die regering in universiteite se taalbedeling is ongevraag. Hier word Breyten Breytenbach se pleidooi ondersteun vir ‘n klimaat waarin Afrikaans ‘n essensiële bydrae kan lewer tot die land se ontwikkeling,” het Prinsloo gesê.