
Administrasiegebou by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) Foto: KSUT
Altesaam 43 studente wat in November by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in hegtenis geneem is in verband met ontwrigtende gedrag, het Vrydag vir die tweede keer in die hof verskyn.
Die studente staan onder andere tereg op aanklagte van openbare geweld, oortreding van die Wet op Onwettige Byeenkomste en opsetlike saakbeskadiging, het vlugtig voor landdros Fezile Fani verskyn. Hy het die saak tot 15 April uitgestel vir verdere ondersoek.
Die groep is in November verlede jaar in hegtenis geneem tydens studentebetogings. Landdros Cyril Kroutz het hulle verlede jaar vrygelaat op borgtog van R3 000 elk.
Die borgtogvoorwaardes is steeds van krag.
Kroutz het die 43 persone baie streng gewaarsku dat, indien enigeen hul borgtogvoorwaardes oortree, sal die staat hul borgtog terugtrek en die betrokke persone sal dan in aanhouding bly tot die saak afgehandel is.
Een van die borgtogvoorwaardes behels dat hulle verbied word om weer “hul voet te sit” op die Bellville-kampus, en diegene wat in koshuise gewoon het, moes dadelik ander akkommodasie vind. Hulle is ook gewaarsku om nie ander studente of personeel op die kampus te intimideer of by hulle in te meng nie.
Lees alle vorige berigte oor KSUT op Maroela Media.