AfriForum se film, Tainted Heroes, wat ten doel het om groter balans te bring in persepsies oor wie nou eintlik engeltjies was en wie nou nie heeltemal as engeltjies gedeug het nie, se primière is skaars gehou, of die penne is in gal gedoop. Een van die kritici, Max du Preez, het die film nog nie self gesien nie.
Maar laat dit duidelik gestel word, in Max se geval maak die sydelingse kritiek deel uit van ʼn andersins (ongewoon, sal sy kritici sê) goeie stuk, Verlede verdien groter nuanse.
Die angels is werklik uit in die bydrae op Netwerk 24 waar Pieter du Toit, nuushoof van Netwerk24, skryf AfriForum speel met vuur.
Nie AfriForum of Solidariteit het (nog) formeel op die skrywes gereageer nie, maar ʼn Twitteroorlog woed waaraan van die vernaamste rolspelers deelneem.
Die bedoeling met hierdie rubriek is nié om die kwessie ryp te probeer druk nie. Op Netwerk 24 word die skrywers reeds goed deur die lesers voor stok gekry, terwyl Max erkenning kry vir sy “andersins puik artikel,” met die implikasie dat hy “oplaas” ook nou die lig begin sien het oor wat werklik aangaan.
Voorts het Du Toit, wat die film gesien het, se bydrae grootliks die vorm van ʼn resensie aangeneem. Dis gewoonlik nie baie sinvol om ʼn resensie oor ʼn resensie te skryf nie, veral omdat die film nog nie wyd vertoon word nie en net ʼn handjievol mense dit gesien het en dus sinvol kan meedoen. Die uwe het dus ook nog nie die film gesien nie.
Soos sake nou staan, is daar reeds te veel teenstrydige persepsies oor die land se geskiedenis. Dit is nou pas weer gesien in die verbale diarree oor die karakter en rol van pres. Paul Kruger, nadat ʼn DA-LP so “ongevoelig” was om saam met ʼn afbeelding van hom afgeneem te word. Pres Jacob Zuma se skokkende onkunde oor die geskiedenis (wat waarskynlik net deur sy onkunde oor aardrykskunde en die ekonomie oortref word), het woeste stellings oor Jan van Riebeeck ingesluit wat nie net die historiese konteks kwyt was nie, maar sommer die feite ook.
En elke volk het helde nodig.
Die Bybel leer ʼn mens moet nie op prinse vertrou nie en die held sonder voete van klei moet stellig nog gebore word. Zuma se helde, soos Shaka, was geen engeltjies nie. Net so vertel die geskiedenisboeke dat Andries Pretorius self nooit die Geloftedag onderhou het nie.
Elkeen se persepsie van die geskiedenis word gedurig aan politieke invloede blootgestel en “aangepas” en helde se statuur groei terwyl die kennis oor die voete van klei vervaag. Soms is daar twyfel by geskiedkundiges of sekere helde ooit regtig bestaan het, soos die geval is met Racheltjie de Beer.
Soos wyer kennis versamel word, word byvoorbeeld gemerk dat bykans identiese verhale elders ter wêreld afgespeel het, waarvan die geldigheid dikwels ook nie bevestig kan word nie. Geskiedskrywers vind ook dat sulke verhale soms lank nadat dit sou gebeur het, skynbaar uit die bloute in omloop kom.
Dit lyk ook nie of hoofman Tshwane ʼn werklike historiese figuur was nie, standbeeld ten spyt.
Kortom, heldeverering het dikwels ʼn baie subjektiewe aanloop. Dis egter selde skadelik en dien eerder ʼn baie positiewe doel.
Behalwe soms, wanneer verskillende persepsies oor dieselfde figuur of figure in ʼn heterogene land gehandhaaf word. Dink maar aan die naarheid toe die nuwe sokkerstadion in Polokwane na Peter Mokaba van “Kill the Boer, Kill the farmer”-faam vernoem is. Dit kan as belangrike katalisator vir die ontwikkeling van tussengroepspanning dien. Soms kan dit binne dieselfde volk gebeur, soos wanneer ideologie of godsdiens binne die volk ʼn swaartepuntverskuiwing ondergaan en manifesteer juis dikwels in wat die Nederlanders “beeldenstorm” noem. Kort-kort lees ons van ʼn eertydse held wie se standbeeld iewers op hierdie aardbol omgetrek word.
Binne ʼn bepaalde gemeenskap is die letterlike en figuurlike “beeldenstorm” ʼn manifestasie van konflik. Wanneer een groep hom aan kulturele imperialisme en “beeldenstorm” van ʼn ander groep skuldig maak, is dit ʼn aanstigting tot konflik.
Die Nasionale Vredesakkoord was veronderstel om hierdie kwessie te ondervang.
Oor waar dit ontspoor het (en peilings toon dat dit grootliks die geval is) verskil menings (en dikwels weer juis langs die groepgrense). Die feit is egter dat versoening al hoe meer dikwels nie deel van die woordeskat van die ideologiese drywers is nie, soos diegene wat Afrikaans nie ʼn plek onder die son by universiteite gun nie.
Met die verwagte teenreaksie.
Tainted Heroes probeer balans bring in ʼn omgewing waar een deel van die bevolking se geskiedenis gekriminaliseer word en die ander deel, met hul voete in die bloed, se geskiedenis opgehemel word.
Oor of daar onnodig gekrap word (want niemand kan stry dat dit jeuk nie) sal die menings verskil.
Dit bly egter belangrik hoe elkeen (wat dit gesien het) daarop reageer. Is die reaksie in eie geledere verantwoordelik, slaag dit in sy doel.
Om te gaan stook en onbedoelde en ongewenste uitkomste te skep, hou die eintlike gevaar in.
** Lees gerus Susan Lombaard van Maroela Media se resensie oor Tainted Heroes.