Lt.genl. Kgomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiehoof, het Maandag in ʼn onderhoud op RSG se middagprogram, Spektrum, onder meer gepraat oor “wat die polisie vir die boeregemeenskap” wil doen. “Ons weet daar is plaasaanvalle en ek wil net sê ons gaan die plaasmoorde hierdie jaar prioritiseer. Ons wil meer van ons mense in daardie gebied hê sodat ons dit kan polisieer,” het Phahlane tydens die onderhoud, wat hy Afrikaans gedoen het, gesê.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat plaasaanvalle nou as ʼn prioriteitsmisdaad beskou word. “Lt.genl. Phahlane is tans [Donderdagoggend] in die parlement besig om sy besluit voor te lê. Hy sal ook daadwerklike planne bespreek om plaasaanvalle te beveg. Sodra hy klaar sy voorlegging aan die parlement gedoen het, sal ek meer inligting bekend kan maak,” het Mulaudzi gesê.
Die aankondiging kom na verskeie versoeke van landelike veiligheidsorganisasies en ander instansies dat plaasaanvalle en -moorde tot ʼn prioriteitsmisdaad verklaar moet word.
Intussen het die burgerregte-organisasie, AfriForum, Phahlane se aankondiging verwelkom. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie dryf al jare lank ’n veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde en het selfs by verskeie geleenthede die Verenigde Nasies daaroor genader.
“Die aankondiging is ’n reusestap in die regte rigting, maar die stryd is nie outomaties gewen nie,” het Roets gesê. “Die ware toets sal uiteindelik in die syfers lê. Ons glo egter ’n volhoubare strategie teen plaasmoorde kan nie werk tensy dit deur die polisie geprioritiseer word en die nodige hulpbronne daaraan toegewy word nie,” het Roets gesê.
AfriForum se bestuur sal Donderdagoggend met Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, vergader om plaasmoorde en moontlike stappe wat geneem kan word om dit te bekamp, te bespreek.