Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, het gesê die werkers het ʼn kennisgewing van die maatskappy ontvang wat lui hul kontrakte word onmiddellik beëindig sonder dat hulle ’n skeidingspakket aangebied is.
Volgens Croucamp sal die vakbond sy regsopsies oorweeg omdat die maatskappy, wat onder sakeredding geplaas is, nie die vereiste konsultasieproses afgehandel het nie. “Dit is van kardinale belang dat ’n maatskappy voor die aankondiging van afleggings in ’n artikel 189-konsultasieproses met vakbonde en belanghebbendes tree om insette te ontvang wat daartoe kan bydra om die potensiële impak op die werknemers so klein as moontlik te hou,” het Croucamp verduidelik.
Croucamp het bygevoeg dat die vakbond bekommerd is oor die groot aantal afleggings wat moontlik vanjaar gaan plaasvind.