Familielede het Poortman vertroos terwyl die beskuldigdes Sipho Alfred Tlou, Thabo Mampa, Themba Mbowane en Steven Meda in die hof ingestap het.
Tlou, Mampa en Mbowane het Woensdag aan die hof gesê dat hulle nie meer om borgtog wil aansoek doen nie. Meda, ʼn Zimbabwiër, het reeds vroeër vandeesmaand sy borgtogaansoek teruggetrek.
Die vier beskuldigdes word deur Butuma Pumela, ʼn regsverteenwoordiger van Legal Aid, verteenwoordig. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle in Desember kapt. Poortman (47) se motor in ʼn Pretoriase sakesentrum gekaap het, hom in die bolyf met ʼn skerp voorwerp gesteek het en sy liggaam langs ʼn pad in Mabopane gestort het.
Hulle het glo sy vuurwapen gevat en met sy motor na Winterveld gery waar Tlou, Mampa en Mbowane ure later in hegtenis geneem is. Poortman se motor en vuurwapen is in hul besit gevind.
Ao. Poortman is glo na die toneel geroep om inligting vir die media te bekom. Sy het daar eers uitgevind dat die slagoffer haar man is en het sy liggaam op die toneel waar hy gevind is, uitgeken.
Lees alle vorige berigte oor Kenneth Poortman op Maroela Media.