Die minister van landbou het gesê ondanks reuseverliese van lewende hawe in dele van Suid-Afrika kan die vlak van ondergang nog nie as ʼn nasionale ramp gekategoriseer word nie.
“Die vraag word gevra oor hoekom ons dit nie ʼn nasionale ramp verklaar nie. Jy kan nie ʼn nasionale ramp verklaar as dit nie op wetenskap gebaseer is nie,” het minister Senzeni Zokwana Vrydag gesê.
“Ja die ramp is groot maar dis nie dieselfde in al die provinsies nie. Om die Wes-Kaap as ʼn nasionale rampgebied te verklaar sal nie gepas wees nie aangesien dit nie op feite gebaseer is nie,” het Zokwana gesê.
Joy Machoge, LUR vir landbou in Limpopo, het gesê dié provinsies is hard getref. “Ons intervensiestrategie was dat ons R51 miljoen begroot het. Uit die R51 miljoen het ons R20 miljoen begroot vir die aankoop van voer en R21 miljoen vir watervoorsiening. Limpopo het vyf distrikte: Sekhukhune, Waterberg, Mopani, Vhembe en Capricorn. Al die distrikte is ewe erg getref deur die droogte. Ons het ongeveer 31 000 aansoeke vir voer ontvang.”
Mlibo Qoboshiyane, Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming, het gesê die situasie is “haglik” vir diere in dié provinsie. “Wanneer dit by die vee kom, is die situasie ook al hoe meer onseker en die aantal kwesbare diere staan tans op 1,3 miljoen beeste, 3 miljoen skape en 969 000 bokke. Sedert Oktober het ʼn totaal van 3 731 beeste, 5 598 skape en 3 056 bokke gevrek as gevolg van die verslegtende toestande van weiding en gebrek aan toegang tot water.”
In die Vrystaat is die verwagte gewasopbrengs met twee ton per hektaar afgeskaal. Daar word geskat dat die Vrystaat se produksie 2,3 miljoen ton laer sal wees as in die vorige seisoen. Boere se likiditeit sal ook negatief geraak word aangesien hul kontantvloei kleiner sal wees. Daar is ook ʼn moontlikheid van werkverliese in landbou- en verwante sektore.