M-Net het vroeër vandeesmaand aangekondig dat Cliff nie deel van die beoordelaarspaneel van vanjaar se seisoen gaan wees nie. Cliff het hierna te kenne gegee dat hy M-Net vir R25 miljoen dagvaar vir “onregmatige afdanking en kontrakbreuk” asook naamskending.
Volgens M-Net is daar op 8 Januarie met Cliff vergader waartydens hy ingelig is dat M-Net besluit het om hom nie weer as beoordelaar te gebruik nie in die lig van uitlatings wat hy op sosiale media gemaak het. “Cliff se twiet op 4 Januarie dat mense nie vryheid van spraak verstaan nie was enkele dae ná Penny Sparrow se uitlatings en te midde van ʼn woedende en toenemende debat oor rassisme in Suid-Afrika. Die twiet, met die bedoeling al dan nie, is wyd beskou as ʼn verdediging van Sparrow se reg om rassistiese en neerhalende uitsprake te maak.”
Volgens M-Net is daar tydens die vergadering aan Cliff voorgestel dat hy en M-Net ʼn gesamentlike mediaverklaring uitreik waarin hy aankondig dat hy vrywillig besluit om die program te verlaat. Cliff het egter glo geweier waarna M-Net ʼn verklaring uitgereik het oor die besluit om Cliff die trekpas te gee.
M-Net voer verder aan dat hoewel hy reeds met Cliff begin onderhandel het oor die 2016-seisoen, die onderhandelings nooit afgehandel is nie en daar nie ʼn kontrak tot stand gekom het nie. “Dit is duidelik in Cliff se hofdokumente dat sy loopbaan nie net afhanklik is van sy beoordeling op Idols is nie. Hy is nie afhanklik van Idols om ʼn inkomste te genereer nie en oorweeg, deur sy eie toelating, al vir jare om Idols te verlaat.”
Volgens M-Net is Idols ʼn baie gewilde program en sal dit verreikende gevolge hê om nie met die werklikheidsreeks voort te gaan, soos geëis deur Cliff, nie. M-Net het gesê die plekke waar die oudisies gaan plaasvind is reeds betaal en reëling is getref met verskeie vryskutwerknemers.
M-Net het ook ontken dat hy Cliff se naam en reputasie in enige manier geskend het. “Enige skade wat aan Cliff se reputasie aangerig is, is ʼn direkte resultaat van sy eie aksies en nie weens M-Net se besluit om hom nie as Idols-beoordelaar te gebruik nie.”
M-Net staan Cliff se dringende aansoek met kostes teen. “M-Net hou by sy besluit om sy verhouding met Cliff te beëindig. Ons glo vas dat dit die regte besluit vir Idols SA en M-Net was. Die uitlatings wat deur Cliff gemaak is demonstreer ʼn duidelike gebrek aan empatie vir die geskiedenis van Suid-Afrika en M-Net wou nie deel hê in die verdere aanblaas van rasgebaseerde verdeeldheid in die land nie.”
Klik hier vir alle vorige berigte oor Gareth Cliff op Maroela Media.