
Argieffoto
MTN het Vrydag gesê die maatskappy is ʼn lewenslyn aangebied toe Nigeriese owerhede bepaal het dat ʼn boete van $3,9 miljard buite die hof geskik mag word.
Die saak tussen MTN en die Nigeriese Kommunikasiekommissie (NCC) is Vrydagoggend in die federale hooggeregshof in Lagos aangehoor. Die telekommunikasiereus het in ʼn verklaring ná die verhoor gesê die regter het die saak tot 18 Maart uitgestel om die partye die kans te bied om te skik.
Volgens Wole Olanipekun, wat MTN se regspan gelei het, het aan regter Mohammed Idris gesê sy kliënt het gekies om buite die hof te skik, het Technology Times in Nigerië berig.
Chris Maroleng, woordvoerder van MTN, was egter nie dadelik beskikbaar om dit te bevestig nie, aangesien sy telefoon onbeantwoord gebly het.
“Indien die partye nie ʼn ooreenkoms kan bereik nie, sal die saak op 18 Maart hervat,” het MTN gesê.
Die NCC het MTN met $5,2 miljard beboet nadat hulle versuim het om 5 miljoen intekenare se kontrakte te kanselleer toe hulle nie volgens die wet behoorlik geregistreer was nie. Die boete is tot $3,9 miljard verminder, maar MTN het die boete in die hof gedaag.
Die maatskappy is van mening dat die grootte van die boete en die manier hoe dit opgelê is, is nie in ooreenstemming met die kommissie se magte onder die Nigeriese Kommunikasiewet nie.