
Jake Wootton Foto: Facebook
ʼn Man is Vrydag gevonnis nadat hy nagenoeg drie jaar gelede in ʼn groep voetgangers in Hermanus vasgery het.
ʼn Voormalige hoofseun van Milnerton High School, Jake Wootton, het die volgende dag aan sy kopbeserings beswyk.
Schalk Lubbe (25) van Hermanus, het in die Strand-streekshof voor landdros Fransie Mouton verskyn nadat hy skuldig bevind is op aanklag van strafbare manslag. Mouton het hom tot nege maande huisarres gevonnis.
Lubbe is ook aangekla van dronkbestuur, maar is onskuldig bevind op dié aanklag.
Die ongeluk het laat die aand op 4 April 2012 plaasgevind. Wootton was 18 jaar oud.
Die landdros het Vrydag tydens die hofverrigtinge gesê sy sou tronkstraf baie ernstig oorweeg het, indien Lubbe ook skuldig bevind is aan dronkbestuur.
Lubbe is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Sy rybewys is ook vir ses maande opgeskort.
Die ongeluk het by ʼn verkeersirkel plaasgevind toe Lubbe uit die sirkel wou ry. Mouton het gesê Lubbe het sy plig versuim om behoorlik te kyk. “Toe jy uit die binnebaan van die sirkel na die buitebaan beweeg het, het jy die veiligheid van voetgangers, insluitend Wootton, geminag. Sy het gesê Lubbe se spoed was matig, maar onveilig.
Mouton het gesê geen tronkstraf kan die oorledene terugbring nie. Sy het gesê die Wootton-familie sou graag wou sien dat Lubbe tronkstraf uitdien, maar verskeie faktore het die hof oortuig dat ʼn tronkstraf nie in hierdie geval gepas is nie.
Sy het gesê korrektiewe toesig, wat huisarres insluit maar nie tronkstraf nie, soos staatsaanklaer Thia Swart voorgestel het, tesame met die opskorting van sy rybewys, is behoorlik.
Lubbe moet ook, as deel van sy huisarres, Saterdae instandhoudingswerk doen by die Hermanus-polisiestasie. Die landdros het hom gewaarsku dat hy nie tydens die tydperk van sy huisarres alkohol mag drink nie.
Sy het gesê beamptes van die departement van korrektiewe dienste sal hom gereeld, maar onverwags, by sy huis besoek. Hy sal tydens hierdie besoeke onderwerp word aan asemtoetse en sal in hegtenis geneem word indien die uitslag positief is.
Die landdros het ook gesê Lubbe moet Vrydae voor 16:00 by die toesighoudende beampte by Caledon aanmeld. Mouton het versoek dat Lubbe se prokureur, Helmut Scholzel, seker maak dat dit gebeur.
Lees alle vorige berigte oor Jake Wootton op Maroela Media.