Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Blinde, maar nie stom Zuma moet SA by Davos ‘lei’

$
0
0

Pres. Zuma met sy aankoms in Switserland. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma met sy aankoms in Switserland. Foto: Elmond Jiyane

’n Groot en sterk afvaardiging verteenwoordig Suid-Afrika vanjaar by die WEF se Davos-beraad, maar die vraag bly wie die diepste spore gaan trap – Pravin Gordhan of pres. Jacob Zuma wat die afvaardiging lei. Gordhan se taak is moeilik genoeg sonder die los kanon wat Zuma gereeld is.

Die goeie nuus is dat Suid-Afrika ’n baie sterk span, wat ekonome insluit, na die jaarlikse Davos-ekskursie van die Wêreld Ekonomiese Forum stuur. Die SA-span se tema is “Suid-Afrika se deure staan oop om sake te doen”

Minister Pravin Gordhan se vermoëns gaan egter tot die uiterste beproef word.

Die slegte nuus is dat pres. Jacob Zuma (al weer) die Suid-Afrikaanse afvaardiging lei. Wat ekonomiese sake betref mag Zuma blind wees vir werklikhede, maar stom is hy nie met onlangse uitsprake soos dat die ANC daarna streef om van Suid-Afrika ’n sosialistiese kommunistiese land te maak; en dat hy, Zuma, van ekonome verskil wat meen pryse moet deur vraag en aanbod, en eerder deur die arbeid bepaal moet word. Aan ondeurdagte optredes wat die ekonomie knak is daar ook nie brieke nie, soos die onlangse Nene-geval.

In ’n wêreld wat ’n globale neutedop is trek sulke wanklanke gou wêreldwyd. Dit hoef nie eens die media te haal sodat die politici en politieke kommentators hul menings daaroor kan lug nie; die wêreld se ekonome het hul vingers op die pols en dit reflekteer dikwels in effektebeurse wat geraak word nog voor die nuus oor die oorsaak algemeen rugbaar word.

Die Suid-Afrikaanse span se ekskursie na Davos vind plaas teen die agtergrond van die feit dat die IMF pas Suid-Afrika se groeivooruitsigte vir 2016 met die helfte tot 0,7 % gesny het. Dis ongeveer die helfte van wat die Suid-Afrikaanse Tesourie verwag, en veral Gordhan gaan sy storie moet ken om potensiële beleggers te oortuig dat die IMF verkeerd is. Die IMF het, terloops, in die verslag ook die groei in die wêreldekonomie vir 2016 van 3,6 tot 3,4 % afgeskaal. Dit is ’n veel kleiner daling as wat vir Suid-Afrika voorspel word, wat beteken dat Gordhan soos ’n advokaat vir sy kliënt se lewe sal moet veg.

Boonop steek Suid-Afrika se verwagte groeikoers sterk af by dié van Afrika suid van die Sahara wat met 0,3 % tot 4 % afgeskaal is.

Gordhan sal sy saak moet stel met Zuma wat teenwoordig is en ook nie gaan skroom om by Davos sy “oorwoë mening” te gee nie. Al sê sy span hom (weer) voor wat om daar in onder meer TV-onderhoude te sê, is die probleem dat dit dan lynreg sal staan teenoor uitsprake wat hy in Suid-Afrika gemaak het, en wat internasionaal opslae gemaak het. Dit knak net vertroue verder.

Voorts lui die gesegde dat ’n ketting net so sterk soos sy swakste skakel is. Afgesien van Zuma aan die hoof van die afvaardiging is daar nóg swak skakels in die vorm van onder andere ministers Rob Davis en Ibrahim Patel, albei van die SAKP.

Davis kan ook nie meer, soos sy gewoonte was, sy beleidsrigtings “regverdig” deur na China se sukses te verwys nie. Afgesien daarvan dat dit weens China se afwyking van ’n kommunistiese ekonomiese model vals is, is China se huidige ekonomiese probleme tot ’n groot mate verantwoordelik vir die probleme wat die wêreldekonomie nou ervaar. Dit word in die IMF se verslag saam met die dalende olieprys en die resessie in Brasilië as vernaamste redes genoem dat groeivooruitsigte afgeskaal moet word.

Gordhan se taak is ook besonder gedug nadat verskeie kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika se gradering tot op die randjie van rommelstatus afgegradeer het. Die noodwendige gevolg is dat buitelandse lenings duurder word weens die hoër risiko, terwyl Gordhan juis goedkoper finansiering, en baie daarvan, moet vind.

En Eskom se aansoek vir ’n 17 % verhoging in tariewe kon nie op ’n slegter tyd vir Gordhan gekom het nie – ook omdat Gordhan beleggers van ’n gesofistikeerde en betroubare infrastruktuur moet oortuig.

Voorts moet die potensiële beleggers oortuig word dat die Nasionale Ontwikkelingsplan nie net beleid bly nie, maar stewig met implementering op koers is. Met soveel klanke uit die ANC dat eerder by die Vryheidsmanifes gebly moet word, beland Gordhan op ’n baie nou lysie. Aan die een kant is ’n regop krans in die vorm van ’n komende verkiesing en die ANC soek witvoetjie by kiesers vir wie die Vryheidsmanifes soos musiek klink, en aan die ander kant is die groot afgrond as die land wél met die Vryheidsmanifes flankeer.

Die tema van vanjaar se driedaagse beraad is “Vierde nywerheidsrewolusie”, wat Suid-Afrika weens sy selfgeskepte agterstand in vaardighede nie juis in ’n sterk bedingingsposisie plaas nie.

Gordhan self gee geen aanduiding dat hy pessimisties is nie, en noem die indekse waar Suid-Afrika onder die voorste lande val (terwyl hy ook erken dat die land op ander onder die swakstes tel en dat iets daaraan gedoen moet word).

’n Groot struikelblok is dat Zuma self oortuig is dat hy, Zuma, bekwaam vir die werk is en die kritiek op hom daaraan toeskryf dat daar nie aanvaar kan word dat iemand met net gr. 3 hom met ’n wonderwerk kon onderskei om president te word nie. Sy optrede en uitsprake sedert die Nene-debakel dui ook nie op ’n president wat sy les geleer het nie, maar eerder van een wat nou juis eie uitsprake maak om te wys van watter stoffasie hy nou eintlik is – en in die proses nou al ’n paar keer weer sy voet daarin gesit het.

Die ANC loop met oop oë in die Zuma-dilemma in en sal eerder diegene wat wil sien dat hy die tuig neerlê van rassisme beskuldig, as om na die land se beste belange om te sien.

Nou moet die Zuma-Davos-turksvy afgesluk word. Maklik gaan dit nie wees nie. Die politieke kommentator Henry Jeffreys stel dit so: “Daar was ’n tyd toe Suid-Afrika ’n groot gunsteling onder wêreldleiers by Davos was. Dit is egter nie meer die geval nie en vanjaar veral sal die Suid-Afrikaners, onder leiding van Zuma, onder ’n meer kritiese vergrootglas kom. En juis weens Zuma se leiding van die land self. Die president se hoogs omstrede uitskop van Nhlanhla Nene as minister van finansies en die aanstelling van Des van Rooyen in sy plek weerklink nog steeds deur die ekonomie. Die land beleef ’n vertrouenskrisis soos laas in die 1980’s tydens die bewind van oudpres. PW Botha toe dié se Rubicon-toespraak die markte in vryval geslinger en beleggersvertroue ’n gevoelige knou toegedien het. Dit sal by Zuma, wat duidelik nie ­reken daar skort iets te erg met Suid-Afrika se beeld nie, tuisgebring moet word dat hy beleggers ontsenu. Suid-Afrika kan nie meer handel dryf op grond van sy politieke oorgang of ‘wonderwerk’ van 1994 nie.”

Die mate waarin Gordhan hom “teen” die president kan handhaaf sal lig werp oor die voorwaardes waaronder hy, as selferkende moeë man, bereid was om weer minister van finansies te word. Het hy inderdaad voet neergesit en geëis dat Zuma sy neus uit finansiële sake hou?

Binnekort vind die staatsrede plaas. Terwyl verwag word dat Gordhan ’n stewige voetafdruk daarin sal hê om ’n eenvormige boodskap na die wêreld uit te stuur, bly die groot uitdaging steeds om daarvolgens te lewe en om kort voor ’n verkiesing bitter medisyne uit te deel aan ’n gemeenskap by wie oormatige verwagtings geskep is.

En gaan Zuma homself kan beteuel? Nie sommer nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!