Lt. kol. Reinier Lagois (42) se liggaam is Maandagaand by sy huis in die Moot gevind. Altesaam 14 koeëldoppies het op die toneel gelê en sy blougrys Toyota Corolla word vermis.
“Iemand het my seker so rondom 22:00 gebel om te sê hy is dood,” het Hennie Lagois, Reinier se broer, aan Maroela Media gesê. “Ek weet nie eens of dit ʼn huisroof was en of dit ʼn kaping was nie. Ek wil nie bespiegel oor wat gebeur het nie. Ek het natuurlik my bedenkinge, maar ek wil dit nie met iemand deel nie. Ek respekteer my broer se privaatheid.”
Hy het gesê hy het sy broer Sondagaand vir die laaste keer gesien. “Ek en hy en ʼn ou skoolpel het saam ʼn eisbein gaan eet. Dit is die laaste keer wat ek met hom gepraat het.”
Hennie het sy broer as ʼn perfeksionis beskryf wat pynlik netjies op homself, sy huis en sy voertuie was. “Ek onthou toe ons klein was het ons ʼn kamer gedeel en as my skoene skeef gestaan het, het Reinier dit reggeskuif. Alles moes altyd perfek netjies wees,” het hy vertel.
“By hom was iets óf reg óf verkeerd en hy was streng met mense saam met wie hy gewerk het. Dinge moes reg wees. Maar hy was ʼn mense-mens. Hy was baie sosiaal en het goed met ander oor die weg gekom.” Reinier was geskei en het nie kinders gehad nie, het Hennie gesê.
Dit is die tweede tragedie wat Hennie in ʼn kort tydjie tref nadat sy vrou, Jackie (49), drie weke gelede onverwags aan ʼn hartaanval oorlede is. “My ma kuier op die oomblik nou by Jackie se ma – albei van hulle het nou kinders verloor.”
Op ʼn vraag hoe hy twee sulke groot verliese na mekaar hanteer, sê Hennie dat dit baie swaar is. “Ek het eers gedink ek is harteloos omdat ek nie huil nie, maar gisteraand het ek en my dogters saam met my jongste sussie sit en gesels en toe loop die emosies oor. Toe het ons saam behoorlik gehuil,” het hy gesê.
“Al ons planne is nou van die baan. Dit is hartseer dat my dogters nie eendag die voorreg gaan hê om hulle ma op hul troudag te hê nie. ʼn Mens weet nie hoekom sulke goed gebeur nie.”