Die ma van die pasgebore babadogtertjie wat Sondag uit ʼn puttoilet naby Louis Trichardt in Limpopo gered is, het Woensdag in die hof verskyn.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die vrou (44), wie se naam nie genoem mag word in terme van die Kinderwet nie, het in die hof in Sekgosese verskyn op aanklag van verberging van geboorte.
“Sy is op eie verantwoordelikheid vrygelaat, met ʼn waarskuwing om weer op 25 Februarie in die hof te verskyn,” het Otto gesê.
Maroela Media het vroeër berig die dogtertjie is gered nadat een van die inwoners van die Nthabiseng informele nedersetting haar in die puttoilet hoor huil en die polisie ontbied het.
Die baba is na die Botlokwa-hospitaal in Polokwane geneem en sterk tans goed aan. Sy is steeds in die hospitaal.