Priya Reddy, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het gesê ʼn dagvaarding sal op die eienaar van die adverteerruimte waar die plakkaat aangebring is beteken word vir die oortreding van ʼn munisipale verordening wat die toelaatbare grootte van advertensieborde in die stad dikteer.
Independent Outdoor Media, die maatskappy wat glo die advertensieruimte besit, het alle navrae na sy uitvoerende hoof, Brett Dyssel, verwys. Dyssel kon egter nie vir kommentaar bereik word nie.
Reddy het gesê die identiteit van die persoon wat vir plakkaat betaal is steeds nie bekend nie, maar dat die stad wettiglik ook teen hom of haar stappe kan doen. Volgens ingeligte bronne kos dit tot R400 000 per maand om op die betrokke advertensieruimte te adverteer.
“Ons kan stappe doen teen die advertensiemaatskappy, die persoon wat hulle betaal het om die ruimte te huur, die maatskappy wat die plakkaat aangebring het en die eienaar van die gebou,” het Reddy gesê.
Volgens haar is die stad nie om toestemming gevra om die plakkaat aan te bring, soos wat deur die wet vereis word nie. Die stad het die saak aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig kort nadat die plakkaat Vrydag teen die Overbeek-gebou aangebring is. ANC-ondersteuners het die plakkaat Saterdag afgeskeur.
Volgens Reddy is die betrokke advertensieruimte al vir ʼn geruime tyd ʼn probleem aangesien dit volgens wet te groot is.
Die DA, wat in beheer is in die Wes-Kaap, het Vrydag ontken dat hy enigiets met die plakkaat te doen het.