Die werkers betoog sedert verlede Dinsdag teen die uitkontraktering van werk en vir hoër salarisse. Die gevolg was dat die universiteite hul registrasieproses moes staak.
Die werkers, wat na berig word skoonmaakdienste en veiligheidspersoneel insluit, dring daarop aan om onmiddellik deur die universiteite in diens geneem te word, asook ʼn minimum loon van R10 000 per maand. Sommige van die werkers beweer hulle verdien tans R2 500 per maand.
Tuks en Unisa het reeds interdikte teen die stakers bekom. Teen Maandag was Tuks steeds gesluit weens dreigemente van geweld en intimidasie nadat gesprekke oor die naweek ʼn dooiepunt bereik het. Aanlyn-registrasies gaan egter voort. Die universiteit sal direk met studente en hul ouers in verbinding bly.
Unisa het Maandag weer sy deure vir registrasie op sy Sunnyside-kampus oopgemaak. Swaar gewapende polisie- en veiligheidsbeamptes is egter op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat betogers vroeër daar byeengekom het.
“Al ons kampusse is weer oopgemaak. Ons sal aanhou om ons studente te registreer en die situasie te monitor,” het Martin Ramotshela, Unisa se woordvoerder, gesê.
Ntando Sindane, die studenteverteenwoordiger van die EFF by Unisa, het egter gesê hulle sal nie die kampus verlaat alvorens daar aan al die werkers se eise voldoen is nie. “Ons sal die polisie en universiteit se bestuur konfronteer as ons moet en ons sal seker maak dat registrasie nie plaasvind nie,” het Sindane gesê.
Intussen het die Universiteit van die Witwatersrand gesê registrasie op die kampus duur voort en dat daar teen Maandagmiddag nie enige ontwrigtings was nie. Sommige studente op dié kampus het verlede week daar betoog en registrasie ontwrig onder die #FeesMustFall-vaandel