Die polisie in Limpopo ondersoek ʼn voorval waartydens ʼn tienjarige seun glo sy 12-jarige vriend doodgeskiet het.
Maj. Mashudu Malelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Vrydag in Maniini naby Thohoyandou plaasgevind. Die 12-jarige seun is op die toneel dood verklaar. “Ons ondersoek ʼn saak van moord,” het Malelo gesê.
Die verdagte, wat nie in aanhouding is nie aangesien hy minderjarig is, word deur ʼn beampte van korrektiewe dienste geëvalueer. Volgens Malelo het niemand nog eienaarskap van die vuurwapen wat in die skietery betrokke was geëis nie. Die wapen is vir ballistiese toetse gestuur.