Meningspeilings toon dat rasbewustheid diep in die Suid-Afrikaanse samelewing verskans bly en daarom sal voorvalle van rassisme voortduur. Tot die komende landswye munisipale verkiesing is dit egter duidelik dat ʼn bankrot ANC die rassekwessie gaan dryf om die kreeftegang in stemme te stuit.
Maak dus maar gereed daarvoor dat bykans enige normale politieke aktiwiteit, wat per se niks met ras te make het nie, deur die ANC as rassisme gebrandmerk sal word.
Twee baie prominente voorbeelde het reeds voorgekom. Die ANC het spesifiek een van die DA se advertensieborde in Johannesburg, waar die ANC as oorsaak van armoede beskryf word, as “rassisties” beskryf. ʼn Groot banier in Kaapstad met die woorde, ‘Zuma must fall’, is as rassisties afgemaak en op vigilante-wyse verwyder (en ʼn klompie gevegte op straatvlak tot gevolg gehad).
Dit is ʼn ou laai van die ANC om, as hy prestasiegewys in die knyp is, die rassekaart te speel.
Daar is egter ʼn ernstige ingeboude bedreiging hierin. In die aanloop tot die Polokwane-kongres waar Jacob Zuma die leierskap van Thabo Mbeki suksesvol uitgedaag het, het verskeie swart koerantredakteurs die smorende impak van politieke korrektheid wat destyds gegeld het, afgewerp. ʼn Senior redakteur in die Media 24-stal het hul optrede geloof met die vermelding van ʼn langerige lys name en daarop gewys ʼn aantal wit redakteurs het ook deurgeswem toe die sluise gelig is. Die implikasie was dat politieke korrektheid nie meer die inligtingsvloei in Suid-Afrika so sou beheer nie.
Nie lank nadat Zuma president geword het nie, het verskeie mense, waaronder die omstrede teoloog, dr. Nico Smith en verskeie van die swart redakteurs wat genoem was, egter onheilspellend begin waarsku die kritiek op die ANC kan tot ʼn bloedbad lei (omdat dit as kritiek op swart mense vertolk word).
Die boodskap, so het dit gelyk, was dat Thabo Mbeki vrybuit was, maar kom dit by die ANC na Zuma se opkoms, moet politieke korrektheid hervat word. “Ken jou plek of betaal die prys.”
Maar … dit het geblyk dat Zuma ʼn uitsonderlike swak president is en ʼn kritieklose swye sou belaglik raak. Zuma is egter self ʼn heel ander mening toegedaan. Hy skryf die kritiek op hom toe aan die feit dat hy nie formele skoolopleiding gehad het nie.
Hy is beswaard daaroor dat die fokus nie eerder val op “die wonderwerk van iemand sonder formele skoolopleiding wat hom tot president kon opwerk” nie. Hy het ook gedreig om diegene wat hulle hieraan skuldig maak “aan die kaak te stel.” Zuma probeer dus die kritiek op die swak uitvoering van sy presidensiële verpligtinge afmaak as ʼn aanval op sy gebrek aan kwalifikasies.
Ja, sy gebrek aan byna geen formele skoolopleiding dra stellig by tot Zuma se onkunde oor talle onderwerpe, soos grondbesit, die geskiedenis, hoe die demokrasie en veral grondwetlike demokrasie werk, presies hoe verkeerd korrupsie is en ʼn eindelose aantal voorbeelde soos sy mistasting oor die vertaling van die Bybel in Zoeloe. Maar dit hoef geen probleem te wees nie, as die bekleër van die presidentspos weet hy het tekortkominge en daarom luister na goeie raadgewers en ʼn wag voor sy mond plaas.
Maar Zuma leer nie dat hy telkemale sy voet daarin sit as hy eie opinies lug (en nog lekker daaroor lag ook nie).
Die ANC het pas oorlog verklaar teen rassisme en ʼn beroep op politieke partye gedoen om hulle te weerhou van optredes en uitsprake wat ʼn “demokratiese uitkoms” van die verkiesing gaan belemmer. Die probleem is dat rassisme vir die ANC iets heeltemal anders as vir ander mense beteken. In wese kom dit daarop neer dat die ANC en sy lede hulle aan allerlei rassepraktyke skuldig kan maak, maar dat ander die rassiste is as hulle beswaar sou maak.
Die FW de Klerkstigting is pas deur die ANC weens “rassisme” veroordeel nadat die stigting altesaam 45 swart mense weens gewelddadige rassistiese opmerkings op sosiale media by die Menseregtekommissie verkla het en na berig word, ook gesê het swart mense is meer rassisties as blankes. Die Stigting het egter die voorbeelde gehad om sy stelling oor die aanblaas van ekstreme geweld teen wittes te staaf.
Op ʼn pikante noot het die ANC-LP, Bongani Mkongi, op sy Facebook-blad geskryf die gebou in Kaapstad waarop die anti-Zuma-banier aangebring is, moes afgebrand en die inwoners in die proses verkool word.
Hy het wel om verskoning gevra, maar ook aangedui dat hy hom nie sal laat sensor nie.
Terwyl die ANC byna elke negatiewe stelling oor die ANC as rassisme gaan beklad en in die proses eintlik ʼn erg rasbenepe ingesteldheid openbaar, is dit ook so dat enige voorval van werklike rassisme van die kant van wittes as bewyse aangegryp en as kleinood vertroetel sal word aangesien dit eintlik ʼn wit teenoor swart probleem is.
ʼn Dure plig rus op elke witmens om hom van rassistiese op- en aanmerkings, ook op die sosiale media, te weerhou.
Terselfdertyd, ter wille van die beskerming van demokratiese praktyke, is dit nodig om elke aksie van rassisme deur die ANC en sy ondersteuners te verkla. Die media het ʼn dure plig om die uitwissing van rassisme van alle kante te beveg.
Ons kan nie toelaat dat die situasie ontstaan waar die demokrasie volledig geïnhibeer word omdat enige kritiek op Zuma of die ANC met kritiek op swart mense en dus rassisme, gelyk gestel word nie. Wat die probleem vererger is dat die taktiek al in die verlede met wisselende mate van sukses ingespan is, en ook sukses behaal het omdat wit politici dikwels nie die kulturele onderbou hiervan verstaan het nie en so juis in die hande van die ANC gespeel het.
Uiteraard kan elke nuuskommentaar tot die verkiesing nie aan die probleem van rassisme gewy word nie en ander onderwerpe sal aan die bod kom. Dit beteken egter nie dat die probleem nie bestaan nie en ʼn blywende waaksaamheid bly belangrik.