Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Maxwell Sithole (29) is Dinsdagaand in Musina in hegtenis geneem, nadat agt gesteelde selfone en twee rekenaartablette tydens ʼn klopjag in sy besit gevind is. “By verdere ondersoek is Sithole ook verbind met sake van roof, huisbraak en opsetlike saakbeskadiging in die gebiede rondom Louis Trichardt, Waterval en Tshilwavhusiku,” het Otto gesê.
Sithole word ook verbind met die moord op Oelofse in Oktober. Maroela Media het vroeër berig Oelofse is doodgeskiet toe ses aanvallers lukraak op die gesin se huis losgebrand het. Oelofse se vriendin, Miempie du Toit (42), en Du Toit se twee kinders, Wimpie (10) en Inge (16), het die aanval oorleef.
“Sithole is die tweede verdagte wat in verband met hierdie saak vasgetrek is. ʼn Gesteelde vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is en wat in die uitvoering van hierdie misdade gebruik is, is in ʼn puttoilet gevind kort na sy inhegtenisneming,” het Otto gesê.
Sithole sal vandeesweek in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn.