Mbalula het gesê hy was geskok en hartseer om van Cele se dood te verneem. “Ek het Saterdagaand gekyk hoe hy speel toe hy die openingsdoel aangeteken het en sy klub met 3-3 teen Orlando Pirates gelykop gespeel het. Ek het nie geweet ek sien hom vir die laaste keer speel nie. Suid-Afrikaanse sokker het een van sy blinkste sterre verloor en is armer sonder hom,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig twee mense is dood toe ʼn motor in Pietermaritzburg gerol en in ʼn rivier beland het. Dit het later aan die lig gekom Cele en ʼn sportverslaggewer van die SAUK is in die ongeluk dood. Nog twee insittendes is beseer en in die hospitaal opgeneem.
“Dit is so hartseer dat ons steeds sulke jong lewens op ons paaie verloor,” het Mbalula gesê. “Padsterftes steel ons toekoms en Cele is een van vele voorbeelde. Ek wil my innige medelye aan sy familie en sy klub betuig. Mag hulle vertroosting vind in die wete dat hulle die hartseer van sy afsterwe deel met alle sokkerliefhebbers in Suid-Afrika.”